



Breaking Bad is ’n Amerikaanse neo-Westerse misdaadtelevisiereeks wat deur Vince Gilligan geskep en vervaardig is. Die reeks speel af en is verfilm in Albuquerque, Nieu-Mexiko, en gaan oor Walter White (Bryan Cranston), ’n oorbekwame, moedverlore hoërskoolonderwyser in chemie wat worstel met ’n onlangse diagnose van stadium-3-longkanker. White wend hom tot ’n lewe van misdaad en span saam met ’n voormalige leerling, Jesse Pinkman (Aaron Paul), om tik te vervaardig en te versprei om sy gesin se finansiële toekoms te verseker voordat hy sterf. Intussen moet hy die gevare van die kriminele onderwêreld navigeer. Ook in die reeks is Anna Gunn, Dean Norris, RJ Mitte, Betsy Brandt, Giancarlo Esposito, Jonathan Banks en Bob Odenkirk.
Breaking Bad se première was op 20 Januarie 2008, en dit het vyf siesoene geduur. Die eerste seisoen het oor die algemeen positiewe resensies ontvang, terwyl die daaropvolgende seisoene (veral die vyfde en laaste seisoen) universele lof ontvang het, veral vir die toneelspel, regie, kinematografie, skryfwerk, storielyn en karakterontwikkeling. Die reeks het in sy eerste drie seisoene redelike kykersgetalle gehad, maar die vierde en vyfde seisoen het ’n matige toename in kykertal beleef toe dit kort voor die vierde seisoen se première op Netflix beskikbaar gestel is. Die kykertal het eksponensieel toegeneem met die première van die tweede helfte van die vyfde seisoen in 2013. Teen die tyd dat die laaste episode van die reeks uitgesaai is, was dit onder die mees gekykte kabelreekse op Amerikaanse televisie.
Sedert die afsluiting daarvan word die reeks deur baie resensente beskou as een van die beste televisiereekse van alle tye. Dit het ook ’n kultusaanhang ontwikkel en het talle toekennings ontvang, insluitend 16 Emmys, twee Golden Globes, twee Critics' Choice-toekennings en een Bafta. Cranston het die Emmy vir uitmuntende hoofakteur in ’n dramareeks vier keer gewen, Paul het die Emmy vir uitmuntende manlike byspeler in ’n dramareeks drie keer gewen en Gunn het die Emmy vir uitmuntende vroulike byspeler in ’n dramareeks twee keer gewen. In 2023 is Breaking Bad in ’n peiling deur Rotten Tomatoes deur resensente as die beste TV-reeks van die afgelope 25 jaar aangewys.
Die reeks het aanleiding gegee tot die groter Breaking Bad-franchise met opvolgreekse. Op 11 Oktober 2019 is El Camino: A Breaking Bad Movie uitgereik met Paul in die hoofrol.
Storielyn
Breaking Bad gaan oor Walter White (Cranston) tussen 2008 en 2010. Hy is 'n sukkelende, gefrustreerde hoërskoolonderwyser in chemie in Albuquerque, Nieu-Mexiko, wat 'n misdaadbaas word in die plaaslike tikhandel. Hy doen dit om sy gesin versorg te laat nadat hy met longkanker gediagnoseer is.
Hy en 'n voormalige leerling, Jesse Pinkman (Paul), maak aanvaklik klein hoeveelhede tik in 'n woonwa, maar vorder later tot groter hoeveelhede van 'n suiwer, blou tik waarvoor daar 'n groot aanvraag is. Walter neem die van "Heisenberg" aan om sy identiteit te beskerm. Eindelik begin hy met sy gesin vassit, asook met die dwelmpolisie (DEA), waarvan sy swaer, Hank Schrader (Norris), later die hoof word, en Mexikaanse dwelmkartels. Dit plaas sy lewe en dié van sy gesin in gevaar.
Hoofakteurs
- Bryan Cranston as Walter White, wat as dwelmmisdaadbaas 'n reputasie onder die naam "Heisenberg" opbou.
- Anna Gunn as Skyler White, Walter se vrou, wat aanvanklik swanger met sy tweede kind is en later die ma van sy dogtertjie. Sy begin al hoe meer snuf in die neus kry toe haar man op vreemde maniere begin optree.
- Aaron Paul as Jesse Pinkman, Walter se assistent en later vennoot.
- Dean Norris as Hank Schrader, Walter en Skyler se swaer deur sy huwelik met Skyler se suster, Marie. Hank is 'n DEA-agent.
- Betsy Brandt as Marie Schrader, Hank se kleptomaniese vrou.
- RJ Mitte as Walter White jr., Walter en Skyler se seun wat serebrale verlamming het. Mitte het self serebrale verlamming, maar 'n ligter vorm daarvan.
- Giancarlo Esposito as Gustavo "Gus" Fring, 'n Chileense dwelmverspreider wat sy identeit wegsteek agter 'n kitskosketting, Los Pollos Hermanos.
- Bob Odenkirk as Saul Goodman, 'n twyfelagtige prokureur wat Walt en Jesse verteenwoordig.
- Laura Fraser as Lydia Rodarte-Quayle, 'n werknemer van Madrigal Electromotive met 'n hoë posisie en 'n voormalige vennoot van Gus. Sy begin Walt later help om sy dwelms oorsee te versprei.
Ontvangs








Breaking Bad het algemene lof ontvang en is deur baie resensente geprys as een van die beste televisiereekse van alle tye. Die reeks het ook ’n kultusaanhang ontwikkel. Dit het ’n algehele gradering van 87 uit 100 op Metacritic gekry. Die Amerikaanse Rolprentinstituut het Breaking Bad gelys een van die top-10-televisiereekse van 2008, 2010, 2011, 2012 en 2013. In 2013 het TV Guide dit as die negende beste TV-reeks van alle tye aangewys.
Teen die einde van die reeks was dit onder die mees gekykte kabelreekse op Amerikaanse televisie, met kykersgetalle wat van die vierde tot die vyfde seisoen verdubbel het. In ’n 2015-opname deur The Hollywood Reporter onder 2 800 akteurs, vervaardigers, regisseurs en ander mense in die bedryf is Breaking Bad as hulle naasgunstelingreeks aangewys. In 2016 en 2022 het Rolling Stone dit derde geplaas op sy lys van die 100 beste TV-reekse van alle tye.
In September 2019 het The Guardian dit vyfde geplaas op sy lys van die 100 beste TV-reekse van die 21ste eeu en dit beskryf as “die reeks wat waarskynlik die antihelddrama tot ’n einde gebring het: Niks sedertdien kon die verdorwe afdraand wat Walter White (’n beter Bryan Cranston as ooit tevore) beleef het – van vaal chemie-onderwyser tot tikmisdaadbaas – oortref nie, en min het dit gewaag om te probeer.” In 2021 het Empire die reeks tweede geplaas op sy lys van die 100 beste TV-reekse van alle tye.
Allen St. John van Forbes het dit “die beste TV-reeks nog” genoem. In 2021 is dit deur die BBC as die derde beste TV-reeks van die 21ste eeu aangewys, en in 2023 het Variety dit as die vyfde beste TV-reeks van alle tye gelys.
Die eerste seisoen van die reeks het oor die algemeen ’n positiewe ontvangs ontvang. Robert Bianco van USA Today het Cranston en Paul geprys en geskryf: “Daar is humor in die reeks, meestal in Walt se pogings om geleerdelogika op die besigheid en op sy idiootleerling toe te pas, ’n rol wat Paul baie goed vertolk. Maar selfs hulle tonele neig tot spanning, aangesien die duo leer dat dit lelik en morsig is om iemand dood te maak, selfs in selfverdediging.”
Die tweede seisoen het ook lof ontvang. Entertainment Weekly se Ken Tucker het verklaar: “Bad is ’n buitengewoon vars metafoor vir ’n middeljarekrisis: Dit het kanker en wetsoortreding geverg om Walt uit sy voorstedelike verdowing te ruk, om weer die lewe te ervaar – om kanse te waag, gevaar te loop, dinge te doen waartoe hy nie gedink het hy in staat is nie. Natuurlik sou niks hiervan werk sonder die Emmy-wenner Cranston se woeste, humoristiese onselfsugtigheid as akteur nie. Ten spyte van al die somberheid en duisternis, is daar ’n gloeiende opwinding aan hierdie reeks: Dit is ’n lekkervoelreeks oor hoe om regtig sleg te voel.” Tim Goodman van die San Francisco Chronicle het beweer: “Dit lyk asof Gilligan se gewaagde visie vir Breaking Bad nou teen alle verwagtinge in ten volle beloon word; almal wat by die projek betrokke is, het vernuwe. Jy kan die volwassenheid en groeiende ambisie daarvan in elke episode aanvoel.” Die gruwelskrywer Stephen King het die reeks geloof en vergelyk met onder meer Twin Peaks en Blue Velvet.
Die derde seisoen het eweneens lof ontvang. Tim Goodman het die skryfwerk, toneelspel en kinematografie geprys en gewys op die “visuele waagmoed” van die reeks. Hy het die visuele styl beskryf as ’n "kombinasie van verstommende skoonheid – die regisseurs maak ruim gebruik van wyehoeklandskapportrette – en meesleurende vreemdheid”.
Ook seisoen vier het algemene lof ontvang. The Boston Globe het na die reeks verwys as ’n "styfgespanne oefening in teruggehoue rampspoed” en dit as “boeiend” bestempel.
Albei helftes van die vyfde seisoen het oorweldigende lof ontvang. Ná die einde van die reeks het die resensent Nick Harley sy lof soos volg opgesom: “Meesterlik geskryf, virtuoos geregisseer en foutloos vertolk – Breaking Bad is alles wat ’n mens in ’n drama kan soek.” In 2013 het Guinness World Records Breaking Bad aangewys as die hoogste gegradeerde TV-reeks van alle tye, met verwysing na sy vyfde seisoen se Metacritic-telling van 99 uit 100.
In 2018 het Paul MacInnes van The Guardian geskryf: “Breaking Bad het om baie redes ’n klassieke drama geword: Sommige het met vakmanskap te doen, ander met kreatiwiteit. Maar bowenal het dit uitgestaan omdat dit, hoe surrealisties die omgewing ook al was, in sy botsende, komplekse karakters getrou aan die werklikheid gebly het.”
Pryse en benoemings
Die reeks het talle pryse en benoemings gewen, insluitend 16 Emmys en 58 benoemings. In 2013 en 2014 het dit die Emmy vir beste dramareeks gewen. Dit het ook in 2008 en 2013 'n Peabody-prys gewen.
Vir sy vertolking van Walter White het Bryan Cranston vier keer die Emmy vir beste hoofakteur in 'n dramareeks gewen: in 2008, 2009, 2010 en 2014. Hy het ook die Critics' Choice Television Award vir die beste TV-akteur en ander pryse gewen.
Aaron Paul het die Emmy vir beste manlike byspeler in 'n dramareeks in 2010, 2012 en 2014 gewen. Anna Gunn het die Emmy vir beste vroulike byspeler in 'n dramareeks in 2013 en 2014 gewen. Vir sy rol in seisoen 4 het Giancarlo Esposito die Critics' Choice Television Award vir beste manlike byspeler in 'n dramareeks gewen.
Breaking Bad het ook verskeie ander pryse gewen, soos in 2013 die TCA-prys vir program van die jaar, in 2009 en 2010 die Satellite Award vir beste TV-drama en in 2012 en 2013 die Writers Guild of America Award vir beste dramareeks. In 2013 is dit gekies as nr. 13 op die lys van 101 bes geskrewe TV-reekse van alle tye. Die reeks het 110 pryse gewen van die 262 waarvoor dit benoem is.
Gehore se reaksie op Skyler
Die karakter Skyler White het baie kritiek gekry. Dit het gelei tot talle besprekings, soos die gemeenskap se houding jeens vroue, feminisme, seksisme en dubbele standaarde.
In Augustus 2013 het de aktrise wat die rol vertolk, Anna Gunn, 'n artikel in The New York Times gepubliseer met die titel "I Have a Character Issue". Daarin bespreek sy haar ondervinding in die vertolking van Skyler, met klem op die venynige opmerkings deur kykers oor haar karakter. Sy het Skyler vergelyk met soortgelyke TV-vroue wat die gehore gif laat spoeg het terwyl hulle mans skotvry daarvan afgekom het, veral Carmela Soprano van The Sopranos en Betty Draper van Mad Men. In Gunn se woorde "wou Vince Gilligan, die skepper van Breaking Bad, hê Skyler moes 'n vrou van staal wees wat alles kon hanteer wat haar getref het en nie net in 'n hoekie sou gaan sit en haar hande wring nie. Die reeks se skrywers het Skyler met vele fasette geskryf, maar sy is nie met dieselfde stel standaarde as Walter beoordeel nie".
Vince Gilligan het beide Skyler en Anna Gunn verdedig en op 'n reünie in 2018 gesê: "Ek het gedink dit sou vir mense moeilik wees om met Walt simpatie te hê. Nou hoor ons van dié vyandigheid teenoor Skyler White. Anna Gunn het so 'n briljante vertolking gegee. Ons het nooit simpataie of 'n gebrek daaraan probeer ontlok nie. Ek sou dit verander het as ek 'n towerstaf gehad het."
In 2018 het Gunn gesê: "Dit gaan nie oor my, Anna Gunn, nie en eintlik ook nie oor Skyler nie. Dit gaan oor die manier waarop mense by hom (Walter) aansluitng vind. Dit gaan dalk ook oor hoe mense vasklou aan miskien ouer idees oor hoe 'n vrou moet wees en optree. Op die ou end is verandering nie altyd maklik of aangenaam nie, maar dit is goed dat dié dinge onder mense se aandag gebring is."
Meer as 'n dekade nadat die reeks geëindig het, het Gunn opgemerk sy sien 'n verbetering in die manier waarop Skyler White beskou word, asook wat betref TV-aktrises en vroulike karakters in die algemeen... "Daar lê nog 'n lang pad voor, maar daar was sedertdien groot veranderings."
Temas
Moraliteit
In ’n onderhoud met The New York Times het Gilligan gesê die groot les van die reeks is dat “dade gevolge het”. Hy het verder uitgebrei oor die reeks se filosofie:
As godsdiens ’n reaksie van die mens is, en niks meer nie, lyk dit vir my asof dit ’n menslike begeerte verteenwoordig dat oortreders gestraf moet word. Ek haat die idee dat Idi Amin die laaste 25 jaar van sy lewe in Saoedi-Arabië deurgebring het. Dit ontstel my tot in my wese. Ek voel ’n soort behoefte aan Bybelse versoening, of geregtigheid, of iets dergeliks. Ek wil graag glo daar is die een of ander vergelding, dat karma in ’n stadium intree, selfs al neem dit jare of dekades. My vriendin sê hierdie wonderlike ding wat ook my filosofie geword het: “Ek wil glo daar is ’n hemel. Maar ek kan nie nié glo daar is ’n hel nie.”
In ’n artikel waarin die reeks met The Sopranos, Mad Men en The Wire vergelyk is, het die skrywer Chuck Klosterman gesê Breaking Bad “is gebou op die ongemaklike uitgangspunt dat daar ’n onweerlegbare verskil is tussen wat reg en verkeerd is, en dat dit die enigste plek is waar die karakters werklike beheer het oor hoe hulle kies om te leef”. Volgens Klosterman is die sentrale vraag van Breaking Bad: “Wat maak ’n mens 'sleg' — sy dade, sy motiewe, of sy bewuste besluit om ’n slegte mens te wees?” Hy het gesê in die wêreld van Breaking Bad “is goedheid en slegtheid bloot ingewikkelde keuses, nie anders as enigiets anders nie”.
Ross Douthat van The New York Times het Breaking Bad en The Sopranos vergelyk in reaksie op Klosterman se artikel en verklaar dat albei reekse “moraliteitspele” is wat “geïnteresseerd is in morele bemiddeling”. Hy het gesê Walter White en Tony Soprano "verteenwoordig spieëlbeeldbenaderings tot die probleem van boosheid, verdoemenis en vrye wil”. Walter is ’n man wat “doelbewus die lig vir die duisternis verruil”, terwyl Tony “iemand is wat in die duisternis gebore en grootgemaak is” en wat “geleentheid ná geleentheid van die hand wys om homself na die lig op te werk”.
Toewyding aan familie
Die reeks ondersoek die meeste van die hoofkarakters se verbintenisse met hulle families in groot besonderhede. Walt regverdig sy besluit om tik te kook en ’n misdadiger te word met sy begeerte om finansieel vir sy familie te voorsien. In die derde seisoen probeer hy die bedryf verlaat omdat dit Skyler daartoe gedryf het om hom te verlaat. Gus oortuig hom om te bly deur te sê dit is ’n man se plig om vir sy familie te sorg, selfs al kry hy nie liefde nie. In die laaste episode van die reeks erken Walt uiteindelik teenoor Skyler dat die hoofmotivering vir sy bedrywighede eiebelang was. Jesse se eensaamheid in die vroeë seisoene kan deels verklaar word deur sy ouers se besluit om hom uit hulle huis te sit weens sy dwelmverwante bedrywighede. Hierdie ouerlike vervreemding bring hom nader aan Jane, wie se pa haar oor haar dwelmgebruik berispe. Toe Walt met Jane se pa paaie kruis, verwys hy na Jesse as sy "nefie" en betreur die feit dat hy nie tot hom kan deurdring nie. Jane se pa antwoord hy moet aahou probeer en sê: “Familie. Jy kan hulle nooit prysgee nie. Wat anders is daar?” Jane se daaropvolgende dood, wat Walt doelbewus nie verhoed het nie, is ’n belangrike faktor daarin dat haar pa per ongeluk die vliegtuigongeluk aan die einde van die tweede seisoen veroorsaak.
Selfs die meer geharde karakters in die reeks behou bande met hulle families. In die tweede seisoen bestee Tuco Salamanca tyd om vir sy liggaamlik gestremde oom, Hector, te sorg. Toe Tuco deur Hank doodgeskiet word, sweer sy neefs wraak. Hulle optrede word verder verduidelik in ’n terugflits, waar Hector aan die broers verduidelik “La familia es todo” (“Familie is alles”). Gustavo Fring se onderneming Los Pollos Hermanos kan vertaal word as “Die Hoenderbroers”. Dit verwys na die feit dat die maatskappy saam deur Gus en ’n man met die naam Max gestig is. Toe Max deur Hector Salamanca vermoor word, sweer Gus om die Salamanca-familie te vernietig en veral om Hector te verneder en sy lyding uit te rek.
Trots
Trots/hubris is ’n sentrale tema in Walter White se tragiese karakterontwikkeling. In ’n onderhoud met The Village Voice het Gilligan die keerpunt geïdentifiseer waarop Walt “sleg word” as sy trotse besluit om nie Gretchen en Elliott Schwartz se aanbod te aanvaar om vir sy chemoterapie te betaal nie. In seisoen een se vyfde episode:
Hulle bied aan [Walter White] alles wat hy nodig het. Aan die einde van daardie uur sê hy: “Dankie, maar nee,” en hy gaan terug na Jesse Pinkman en sê: “Kom ons kook.” En dit was die punt waar die karakter vir my regtig interessant geword het. Hierdie ou het ernstige trotsprobleme.
Die hoogs bekroonde episode “Ozymandias" verwys na Percy Bysshe Shelley se sonnet met dieselfde naam, wat die oorblyfsels van ’n antieke koning se trotse nalatenskap uitbeeld wat gebroke in die woestyn lê. Die episode trek parallelle met die gedig, aangesien albei antihelde met min oorblyfsels van hulle rykboupogings gelaat word. Austin Gill van die Xavier-universiteit het gesê die episode “roep die tiranniese strewe na onoorwinlikheid en arrogansie van Ozymandias self op, soos dit in Shelley se gedig verteenwoordig word”. Douglas Eric Rasmussen van die Universiteit van Saskatchewan het aangevoer die “begrip hubris en die straf vir grootse projekte wat ’n individu se egotisme dien, is sentrale aspekte van albei werke”.
Hank se dood is die begin van ’n verskuiwing waar dit al hoe moeiliker vir Walt word om vol te hou dat hy tik kook ter wille van sy familie se welstand. Teen die laaste episode erken hy uiteindelik teenoor Skyler dat hy Heisenberg geword het ter wille van sy eie ego: “Ek het dit vir myself gedoen. Ek het daarvan gehou. Ek was goed daarmee. En ek het lewendig gevoel.”
Simboliek


Pienk teddiebeer
’n Motief in die tweede seisoen is die beeld van ’n beskadigde teddiebeer en sy ontbrekende oog. Dit word in vooruitspronge gesien in vier episodes waarvan die titels, wanneer dit in volgorde saamgevoeg word, die sin vorm “Seven Thirty-Seven (Boeing 737) Down Over ABQ (Albuquerque)”. Die vooruitspronge is in swart-wit verfilm, met die enigste uitsondering die pienk teddiebeer: Dit is ’n huldeblyk aan die rolprent Schindler's List, waar die kleur rooi gebruik word om die jas van ’n baie jong meisie uit te lig. Aan die einde van die seisoen veroorsaak Walt indirek die botsing in die lug van twee vliegtuie via Jane (Krysten Ritter) se pa, ’n rouende lugverkeerbeheerder; die pienk teddiebeer word dan onthul as een wat uit een van die vliegtuie geval het en in die Whites se swembad beland het. Die teddiebeer kan ook gesien word op die muurskildery teen Jane se slaapkamermuur tydens die laaste episode van die tweede seisoen, wat die ongeluk verder met Jane verbind. Vince Gilligan het die vliegtuigongeluk ’n poging genoem om “al die verskriklike hartseer wat Walt oor sy geliefdes gebring het” en “die oordeel van God” te visualiseer.
In die eerste episode van die derde seisoen vind Walt die teddiebeer se ontbrekende oog in die swembad. Die televisieresensent Myles McNutt het dit genoem ’n "simbool van die skade waarvoor [Walter] hom verantwoordelik voel”. Aanhangers en resensente het die voorkoms van die teddiebeer se gesig vergelyk met ’n beeld van Gus Fring se gesig in die laaste episode van seisoen vier.
Kleure
’n Terugkerende simbool in Breaking Bad is die gebruik van kleur, veral vir die karakters se kleredrag, om ’n karakter se gemoedstoestand of ’n verhouding tussen karakters voor te stel, of as voorbode vir 'n volgende toneel. In ’n onderhoud met die webtuiste Vulture sê Gilligan: “Kleur is belangrik in Breaking Bad; ons probeer altyd in dié terme dink. Ons probeer altyd dink aan die kleur wat ’n karakter dra, dat dit hulle gemoedstoestand verteenwoordig.”
Walt Whitman
Die naam “Walter White” herinner sterk aan die Amerikaanse digter Walt Whitman. Tydens die reeks gee Gale Boetticher (David Costabile) vir Walt ’n eksemplaar van Whitman se Leaves of Grass. Voordat hy die geskenk oorhandig, dra Boetticher “When I Heard the Learn'd Astronomer” voor. In die episode “Bullet Points” vind Hank die voorletters W.W. in Boetticher se aantekeninge geskryf, en spot met Walt dat dit sy voorletters is, hoewel Walt sê dit verwys seker na Whitman.
In die episode “Hazard Pay” vind Walt die eksemplaar van Leaves of Grass terwyl hy besig is om sy slaapkamer op te pak, glimlag kortliks en sit dit eenkant om te lees. Dit gebeur op ’n besonder hoë punt in sy lewe, wanneer hy voel dat dinge in plek val en hy in al sy ondernemings slaag. ’n Gedig in die boek, “Song of Myself”, is op baie van dieselfde gevoelens gegrond, wat die verband tussen Walt se lewe en Whitman se poësie verder verstewig.
In die middel van seisoen vyf vind Hank Leaves of Grass in Walt se badkamer en maak dit oop by die voorblad, waar hy die handgeskrewe inskripsie lees: “To my other favorite W.W. It's an honour working with you. Fondly G.B.” Met die lees hiervan raak Hank sigbaar geskok en besef hy vir die eerste keer die waarheid oor Walter, en dit lei tot die openingstonele van die tweede helfte van die laaste seisoen.
Omstredenheid
Breaking Bad is deur sommige lede van die regstoepassings- en regsberoep daarvan beskuldig dat dit die vervaardiging en gebruik van tik normaliseer of verheerlik. In 2013 het ’n plaaslike aanklaer en selfverklaarde aanhanger van Breaking Bad op die tydskrif Time se webtuiste geskryf:
"Hoewel Breaking Bad tik dalk nie verheerlik in die sin dat dit die dwelm aantreklik vir die gemiddelde kyker maak nie, “normaliseer” dit wel die idee van tik vir ’n breë segment van die samelewing wat andersins geen kennis van daardie donker en gevaarlike wêreld sou hê nie. [...] Ek sal bly wonder oor die langtermyngevolge daarvan om so ’n gevaarlike dwelm in die hoofstroom- populêre kultuur te plaas. Ek sal bedag wees daarop dat daar ander is vir wie die gevolge van dwelmverslawing ’n ellendige en aanhoudende werklikheid is, nie bloot die stof van ’n TV-drama nie, hoe “gru” en kunstig en boeiend dit ook al mag wees."
’n Artikel in The Daily Telegraph wat in 2014 gepubliseer is, het verklaar dat ’n “vooraanstaande akademikus” die reeks blameer vir ’n “skokkende” toename in die gebruik van tik. Sommige het gespekuleer dat die reeks se realistiese uitbeelding van tikgebruik moontlike gebruikers kon afskrik, wat tot laer gebruikskoerse sedert 2006 gelei het. ’n Woordvoerder van die DEA, Barbara Carreno, het hierdie idee verwerp en die afname eerder toegeskryf aan 'n nuwe wet van 2005. Sy het gesê:
"Die syfers gaan oor die jare op en af, maar oor die algemeen het dit nooit weer die vlakke van 2006 bereik nie. [...] Ons het baie, baie, baie oproepe oor Breaking Bad ontvang. Ons lewer geen kommentaar oor Breaking Bad nie. Breaking Bad is fiksie."
In 2014 het die Amerikaanse speelgoedhandelaar Toys "R" Us vier versamelbare aksiefigure uit sy winkels onttrek ná klagtes van ’n bekommerde ouer uit Florida weens die insluiting van speeldwelmgeld en speelgoedtik.
In 2022 het die oprigting van standbeelde van Walter White en Jesse Pinkman in Nieu-Mexiko kritiek ontlok van sommige Republikeinse figure. Volgens Variety het die konserwatiewe praatradioaanbieder Eddy Aragon gesê: “Dit is nie die soort erkenning wat ons vir die stad Albuquerque of vir ons deelstaat wil hê nie. Wat jy op Breaking Bad gesien het, behoort eerlikwaar ’n dokumentêr te wees. Ek dink regtig dit is die werklikheid in Nieu-Mexiko. Ons probeer sê dit is fiktief, maar dit is die werklikheid … ons het gespot dat [Breaking Bad] op PBS behoort te wees. Dit is ongelukkig die werklikheid.” Met verwysing na die inkomste en ekonomiese aktiwiteit wat die reeks na die gebied gebring het, het die burgemeester van Albuquerque, Tim Keller, die oprigting van die standbeelde verdedig en gesê: “Al is die stories fiktief … is werkgeleenthede elke dag werklik. Die stad is ook ’n karakter … ons sien onsself op soveel maniere daarin, goed en sleg.”
Kulturele invloed
Verskeie pogings om ’n regte restaurantkonsep na aanleiding van Los Pollos Hermanos te skep het plaasgevind, veral in 2019 toe Family Style, Inc., ’n restaurantketting in Kalifornië, Nevada en Illinois, met regte wat van Sony verkry is en met Gilligan se seën, hoenderetes onder die naam en handelsmerk “Los Pollos Hermanos” via Uber Eats verkoop het in ’n ooreenkoms van drie jaar.
Die polisie het sporadiese gevalle aangemeld waar beslag op blou tik gelê is tydens dwelmoperasies. Die voorkoms van “blou tik” in werklike dwelmgebruik is toegeskryf aan Breaking Bad se gewildheid.
In 2015 het die skepper van die reeks, Vince Gilligan, aanhangers van die reeks in die openbaar versoek om op te hou om ’n toneel uit die reeks na te boots waarin Walter woedend ’n pizza op sy eie dak gooi nadat Skyler geweier het om hom in die huis toe te laat; dit het gevolg op klagtes van die huis se werklike eienaar.
Laat in 2025 is beslag gelê op amper 42 000 kg kratomafgeleide stowwe tydens ’n dwelmklopjag in Florida. (Kratom is 'n kruie-ekstrak van die boom Mitragyna speciosa se blare.) Brevard County se sheriff, Wayne Ivey, het dit beskryf as ’n "'Breaking Bad' op steroïede”.
Huldeblyke uit Albuquerque
’n Aanhangersgroep het op 4 Oktober 2013 ’n betaalde doodsberig vir Walter White in die Albuquerque Journal geplaas. Op 19 Oktober 2013 is ’n skynbegrafnisstoet (insluitend ’n lykswa en ’n replika van Walter se laboratorium-woonwa) en ’n begrafnisdiens vir die karakter by Albuquerque se Sunset Memorial Park-begraafplaas gehou. ’n Grafsteen met ’n foto van Cranston as Walter is daar geplaas. Hoewel sommige inwoners ontevrede was daaroor, het kaartjies vir die geleentheid byna $17 000 vir ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Healthcare for the Homeless, ingesamel.
Gilligan en Sony Pictures Television het in Julie 2022 ’n bronsbeeld van Walter en Jesse vir die stad Albuquerque laat vervaardig en geskenk. Dit word by die Albuquerque-konferensiesentrum uitgestal.
Regskwessies
In Mei 2015 het die New Mexico Law Review ’n reeks van agt artikels deur regskenners gepubliseer, elk toegewy aan die ontleding van regskwessies in Breaking Bad. Die artikels het kwessies bespreek soos of die prokureur–kliënt-vertroulikheid kommunikasie met Saul Goodman sou beskerm, en of Walter White ’n regsgeding sou kon instel om hom weer by Gray Matter Technologies in te werk.
Skakels
- Amptelike webtuiste
- Breaking Bad in die Internet-rolprentdatabasis
- Breaking Bad op Netflix
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.
