
Die Yamuna, ook Jamuna of Jumna, is die grootste sytak van die Ganges. Die rivier, met 'n lengte van 1 376 km (855 myl), vloei in die suidweste ewewydig aan die Ganges se boloop. Net soos die Ganges word die Yamuna hoogs vereer in Hindoeïsme. Dié rivier vorm saam met die Ganges die Doab (Hindi: दोआब doāb, afgelei van Persies: دو ﺁب do-āb "twee waters"), een van die mees intensief besproeide landbougebiede van Indië.
Die Yamuna ontspring naby die Yamunotri-tempel in Noord-Indië binne die Himalaja, net suid van die grens tot die Chinese outonome gewes Tibet in die deelstaat Uttarakhand. Aansluitend vloei dié rivier in 'n suidwestelike rigting en vorm die grens tussen die deelstate Haryana en Uttar Pradesh. Hier vloei die Yamuna deur die uniegebied Delhi met die Indiese hoofstad Nieu-Delhi. Verder suid verlaat dié rivier die grensgebied tussen die twee deelstate en bereik Agra, waar die Unesco-wêrelderfenisgebied Taj Mahal langs die oewer staan. Vanaf hier vloei die Yamuna in 'n suidoostelike rigting tussen die stede Gwalior in die weste en Kanpur in die ooste. Verder oos mond dié rivier in Allahabad in die Ganges uit.
Die Ganges en Yamuna se saamvloei is een van die heiligste plekke in Hindoeïsme en volgens die mitologie mond hier nog die heilige Sarasvati-rivier in die Ganges uit, wat die Triveni Sangam vorm. Hier word elke 12 jaar die Kumbh Mela gevier, waarby die pelgrims hul sondes in die riviere wegspoel.
Fotogalery
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Yamuna.
