Sildenafil, wat onder meer onder die naam Viagra verkoop word, is ’n mediese middel wat gebruik word om erektiele disfunksie en pulmonale hipertensie te behandel. Dit is onduidelik of dit doeltreffend is in die behandeling van seksuele disfunksie by vroue.
Werking
Sildenafil word per mond geneem of in ’n aar ingespuit. Dit begin gewoonlik binne 20 minute werk en die uitwerking duur sowat twee uur. Dit blokkeer ’n ensiem wat die nukleotied beïnvloed wat bloedvloei na die penis reguleer. Dit verg egter seksuele opwekking om te werk. Dit lei ook tot die verruiming van die bloedvate in die longe.
Algemene newe-effekte sluit in hoofpyn, sooibrand en ’n blossende vel. Mense met hartbloedvatsiektes word gewaarsku om versigtig te wees as hulle dit gebruik. Seldsame maar ernstige newe-effekte sluit in ’n lang ereksie, wat tot skade aan die penis kan lei, sigprobleme en gehoorverlies.
Die Amerikaanse farmaseutiese korporasie Pfizer het die middel oorspronklik in 1989 ontdek in ’n soektog na ’n behandeling vir hartverwante borspyne. Dit is in 1998 in Amerika en Europa as medisyne goedgekeur.
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Sildenafil.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
