factograf
AF
Sign in

Mirzam

Mirzam

Mirzam (ook bekend as Beta Canis Majoris of β CMa) is ’n ster in die sterrebeeld Groot Hond (Canis Major). Met sy gemiddelde skynbare magnitude van 1,985 is dit een van die helderste sterre in die naglug. Volgens parallaksmetings is dit sowat 500 ligjare van die Son af.

Eienskappe

Mirzam is ’n Beta Cephei-veranderlike met ’n skynbare magnitude wat oor ’n tydperk van ses uur wissel tussen 1,97 en 2,01, ’n wisseling wat te klein is om met die blote oog waar te neem. Die wisselings is die gevolg van periodieke pulse in sy buitenste laag.

Sy massa is sowat 13 tot 14 keer dié van die Son en sy radius 8 tot 11 keer die Son s'n. Sy effektiewe temperatuur is sowat 23 150 K, wat baie hoër as die Son s’n van 5 778 K is. Sy temperatuur gee dit die tipiese blouwit kleur van ’n B-tipe ster. Mirzam se geraamde ouderdom is 12 miljoen tot 13 miljoen jaar. Dit het die waterstof in sy kern opgebruik en ’n reusester geword. Sy sterreklassifikasie van B1 II-III dui aan sy spektrum lê tussen dié van ’n reusester en helder reus.

Name

Die ster se Bayer-naam is "Beta Canis Majoris". Sy tradisionele name, "Mirzam" "Al-Murzim" of "Murzim", kom van die Arabiese مرزم, "die voorloper", wat waarskynlik verwys na sy posisie as voorloper van Sirius in die naglug (hy kom voor Sirius op). In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Mirzam" vir die ster goedgekeur.

Kultuuraspek

Mirzam verskyn op die vlag van Brasilië en simboliseer die staat Amapá.

Ander bronne

  • Makemson, Maud Worcester (1941), The Morning Star Rises: An Account of Polynesian Astronomy, Yale University Press
  • Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Read next

In 30 languages

Text from Wikipedia, CC BY-SA 4.0 · Source article