factograf
AF
Sign in

Alpha Muscae

Alpha Muscae

Alpha Muscae (afgekort as α Mus) is ’n ster in die suidelike sterrebeeld Vlieg (Musca). Met ’n skynbare magnitude van 2,7 is dit die helderste ster in die sterrebeeld. Volgens parallaksmetings is die ster sowat 315 ligjare van die Son af.

Eienskappe

Met ’n sterreklassifikasie van B2 IV-V lyk dit of die ster besig is om weg van die hoofreeks te evolueer en ’n subreus te word terwyl die waterstof in sy kern aan die opraak is. Dit is groter as die Son: Sy massa is sowat nege keer soveel en sy radius amper vyf keer soveel. Sy ligsterkte is sowat 4 000 keer die Son s'n en die effektiewe temperatuur van sy buitenste atmosfeer is 21 400 K, wat dit die blouwit kleur van ’n B-tipe ster gee.

Dit lyk of Alpha Muscae ’n Beta Cephei-veranderlike is. Telting en kollegas was baie seker dat dit ’n Beta Cephei is vanweë gereelde pulse in sy spektrum in ’n ondersoek wat in 2006 gepubliseer is, hoewel Stankov en Handler (2005) dit as ’n swak of verwerpte kandidaat lys in hulle Catalog of Galactic β Cephei Stars. Die ster roteer vinnig, teen sowat 114 km s-1, en is omtrent 18 miljoen jaar oud.

Alpha Muscae is ’n eiebeweginglid van die Laer-Centaurus-Crux-subgroep in die Scorpius-Centaurus-assosiasie (’n OB-assosiasie), die naaste groep swaar sterre aan die Son wat saam deur die ruimte beweeg. Alpha Muscae beweeg teen ’n besonder vinnige snelheid van 10 km s-1 wat, hoewel dit hoog is, nie hoog genoeg is dat dit as ’n dwaalster gereken kan word nie.

Bronne

  • Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Read next

In 21 languages

Text from Wikipedia, CC BY-SA 4.0 · Source article