Beta Trianguli (afgekort as β Tri) is ’n dubbelster in die sterrebeeld Driehoek (Triangulum) en is sowat 127 ligjare van die Son af. Hoewel die skynbare magnitude net 3 is, is dit die helderste ster in die Driehoek.
Die stelsel se wentelperiode is 31,39 dae en die eksentrisiteit van die wentelbaan 0,53. Die twee komponente is minder as 5 AE van mekaar af. Die primêre ster het ’n sterreklassifikasie van A5 IV, wat beteken dit het weg van die hoofreeks geëvolueer en ’n subreus geword. Dié klassifikasie is egter onseker en stem nie ooreen met die massa wat van die wentelbaan afgelei is nie. Dit is een van die veranderlike sterre met die kleinste wisseling in helderheid wat deur die Hipparcos-ruimtetuig waargeneem is; die magnitude wissel slegs met 0,0005.
Volgens waarnemings deur die Spitzer-ruimteteleskoop in 2005 straal die stelsel ’n oormaat infrarooi uit en dit dui op die teenwoordigheid van ’n sirkumstellêre skyf van stof. Dit is vermoedelik sowat 50 tot 400 AE van die sterre af.
Bronne
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
