Alkaid (ook bekend as Eta Ursae Majoris of η UMa) is ’n ster in die sterrebeeld Groot Beer. Dit is die linkerkantste ster van die asterisme Groot Wa (Big Dipper), maar anders as die meeste sterre van die Groot Beer is dit nie lid van die Ursa Major-groep sterre wat saam deur die lug beweeg nie. Met sy skynbare magnitude van 1,84 is Alkaid die derde helderste ster in die sterrebeeld en een van die helderste sterre in die naglug.
Eienskappe
Alkaid is ’n 10 miljoen jaar oue B-tipe hoofreeksster met ’n sterreklassifikasie van B3 V. Sedert 1943 dien sy spektrum as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word. Sy massa is ses keer dié van die Son, sy radius 3,4 keer die Son s’n en sy ligsterkte 594 keer die Son s’n. Sy effektiewe temperatuur van sowat 15 540 K gee dit die tipiese blouwit kleur van ’n B-tipe ster. Die ster straal X-strale uit met ’n helderheid van 9,3 × 1028 erg s-1.
Alkaid was ’n standaardster vir tipe B3 V. Dit het breë absorpsielyne vanweë sy vinnige rotasie, wat algemeen in sulke sterre is. Die lyne is egter effens verwronge en veranderlik, wat dalk ’n gevolg is van die emissielyne van ’n skyf materiaal wat deur die vinnige rotasie veroorsaak word.
Name
Die ster se Bayer-naam is "Eta Ursae Majoris". Die tradisionele name, "Alkaid" (of "Elkeid") en "Benetnasch", kom van die Arabiese قائد بنات نعش qā'id bināt naʿsh, "die leier van die dogters van die doodsbaar". In Julie 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die amptelike naam "Alkaid" vir die ster goedgekeur.
Eksterne skakels
- Alkaid by Jim Kaler se Stars-webtuiste
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
