- Hierdie artikel handel oor die Afrikaanse universiteit. Vir die instelling in antieke Griekeland, sien Akademeia.
Akademia is ’n Suid-Afrikaanse privaatverskaffer van hoëronderwys in Afrikaans. Dit is in 2011 deur Solidariteit gestig en is as maatskappy sonder winsoogmerk ingevolge die Wet op Hoër Onderwys van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer. Marthinus Visser dien as die besturende direkteur van Akademia en prof. Danie Goosen as akademiese hoof.
Weens druk op voormalige Afrikaanse tersiêre instellings om Engels in plek van Afrikaans as voertaal aan te neem het die Afrikaanse hoëronderwysaanbod in Suid-Afrika drasties gekrimp en Akademia poog om hierdie gaping te vul. Dit is deur die Hoëronderwyskwaliteitskomitee van die Raad op Hoëronderwys in Suid-Afrika geakkrediteer. In Oktober 2025 het die regering 'n beleid afgekondig wat privaat instellings vir die eerste keer toelaat om die benaming universiteit te gebruik, en Akademia het aangedui dat hy om herbenaming sal aansoek doen. Die instelling bestaan uit vyf fakulteite wat verskeie grade, hoërsertifikate en nagraadse en gevorderde diplomas aanbied. Dit geskied deur middel van die nauurse afstandmodel, waar studente nauurs lesings bywoon of aanlyn via e-leer studeer, en sedert 2021 ook deur middel van die voltydse kontakmodel, waar studente tradisionele lesings bywoon.
Akademia bou tans 'n nuwe residensiële kampus van sowat R3,2 miljard in die ooste van Pretoria, die grootste projek wat die Afrikaanse gemeenskap sedert die bou van die Voortrekkermonument in 1949 sonder staatshulp onderneem het, en het sy voltydse kampusmodel in 2026 na die Paarl in die Wes-Kaap uitgebrei, waar 'n groter, permanente kampus op 'n eie terrein beplan word. Die instelling se eentalige Afrikaanse aard het al kritiek van politici en akademici uitgelok.
Geskiedenis
Agtergrond
Suid-Afrika het teen 2000 ses openbare universiteite gehad wat in Afrikaans klas gegee het: die Universiteit Stellenbosch, die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, die Universiteit van Suid-Afrika, die Randse Afrikaanse Universiteit, die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. Drie van hulle, naamlik Stellenbosch, Potchefstroom en die Randse Afrikaanse Universiteit, is met skenkings van Afrikaanssprekende burgers gestig.
Onder die beleid van transformasie, wat vereis dat openbare instellings die land se demografie weerspieël, is van die Afrikaanse universiteite verwag om met Engelse universiteite saam te smelt of te verengels, en het die ruimte vir Afrikaans as onderrigtaal al hoe kleiner geword. Teen 2010 het net die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Suid-Afrika en die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit nog programme in Afrikaans aangebied.
Ondanks dié afname was daar in die Afrikaanse gemeenskap steeds 'n behoefte aan universiteitsonderrig in Afrikaans, en dit het die Solidariteit Beweging laat besluit om 'n private Afrikaanse universiteit te stig. Die beweging het reeds voorheen die beroepsgerigte opleidingskool Sol-Tech gestig.
Stigting en groei
Akademia is in 2011 gestig en het in 2012 met onderrig begin, met 'n BCom-graad in ondernemingsbestuur as sy eerste program. Dit is in Januarie 2012 as hoëronderwysinstelling geregistreer, en by die eerste kontaksessies daardie jaar was 42 studente in vier programme ingeskryf.
Nadat die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit Stellenbosch aangekondig het dat hulle heeltemal sou verengels, het Akademia in 2014 'n uitbreiding van sy studieaanbod bekendgemaak en sy fokus van werkende studente na voltydse studente uitgebrei. Die Solidariteit Beweging het terselfdertyd aangekondig dat dit meer in Akademia sou belê om die instelling tot 'n volwaardige Afrikaanse universiteit uit te bou, en in 2016 is drie verdere baccalaureusprogramme bygevoeg.
Akademia het in 2017 ná 'n proeftydperk van ses jaar volledige registrasie as hoëronderwysinstelling ontvang en sy eerste graadkwalifikasies toegeken. Die studentetal het van sowat 750 in 2017 tot ongeveer 1 000 in 2019 gegroei.
In 2018 is Akademia se eerste graad in die geesteswetenskappe, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), geakkrediteer en is verdere fakulteite gestig. Teen die einde van 2019 is 'n akkreditasieproses vir 23 nuwe voor- en nagraadse programme begin, wat na verwagting tot 2023 sou duur.
By Akademia se gradeplegtigheid in Mei 2026 is 747 kwalifikasies toegeken. Die oudste afgestudeerde student was 62 terwyl 49 studente ouer as 40 en 108 studente ouer as 30 was.
Erkenning as universiteit
Suid-Afrikaanse privaat hoëronderwysinstellings kon hulle hulle lank nie universiteite noem nie, hoe goed hul akademiese aanbod ook al was. Op 17 Oktober 2025 het die minister van hoër onderwys en opleiding, Buti Manamela, die Beleid vir die Erkenning van Suid-Afrikaanse Hoëronderwysinstellingstipes in die Staatskoerant afgekondig, wat vir die eerste keer in die land se demokratiese geskiedenis voorsiening maak dat privaat instellings die benamings universiteit en professor wettiglik mag gebruik. Die beleid geld gelykop vir openbare en privaat instellings en stel drie instellingstipes in, naamlik hoëronderwyskolleges, universiteitskolleges en universiteite. 'n Instelling wat as universiteit erken wil word, moet kwalifikasies op vlakke 5 tot 10 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk aanbied en wesenlike navorsingsuitsette, gemeenskapsbetrokkenheid en internasionale akademiese bedrywighede toon, met minstens 5% van sy inskrywings op nagraadse vlak.
Liana van Rooy, Akademia se registrateur, het gesê die instelling sal om herbenaming aansoek doen en verwag dat die verandering nie net 'n sterker akademiese status nie, maar ook groter sigbaarheid in nasionale en internasionale akademiese kringe sal meebring. Sy het daarteen beswaar gemaak dat alle privaat instellings aanvanklik as hoëronderwyskolleges beskou word, ongeag hul bestaande akademiese geskiedenis. Dit plaas volgens haar 'n onewewigtige las op instellings wat reeds aan hoë akademiese standaarde voldoen. Die departement sou konsepregulasies oor die aansoekproses, die tydlyne en die kriteria binne drie tot ses maande vir openbare kommentaar publiseer.
Grondslag en ideale
Akademia beskryf homself as 'n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, en stel hom ten doel om 'n akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word. Die instelling se vyf waardes is waarheid, goedheid en skoonheid; geloof, hoop en liefde; verbondenheid; rentmeesterskap; en pionierskap.
Akademia sluit uitdruklik by die klassieke universiteitswese aan soos dit uit antieke Griekeland en die Middeleeue na die moderne Europese universiteit gevorm is, en by die klassieke vormingsideaal dat studente nie net spesialiste in 'n dissipline is nie, maar ook insig in die geheel van dinge het. Dit ondersoek hoe die grootboeketradisie uit die Westerse kultuurgeskiedenis 'n plek in sy vormingstaak kan inneem. As gemeenskapsinstelling rig Akademia hom op die universitêre ideale van 'n bepaalde taal- en kultuurgemeenskap en verwys hy na gemeenskapsuniversiteite in die Verenigde State, naamlik Baylor-universiteit en Hillsdale-kollege, as voorbeelde van die sentrale rol wat die vraag in die dosering beklee.
Akademia het in 2017 die woord "universiteit" by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop, wat die woord eksklusief en permanent aan die instelling toegeskryf het. Volgens Gerdus Senekal, destyds die instelling se publikasiebestuurder, was dit 'n vanselfsprekende besluit om die WAT te ondersteun omdat Akademia op Afrikaanse moedertaalonderrig toegespits is. Teen 2022 het die instelling sewe WAT-woorde besit, naamlik universiteit, dekaan, studentelewe, pionierswerk, alumni, koshuis en kortkursus, en in Februarie 2026 het dit ook "hoogleraar" gekoop.
Fakulteite
Akademia se akademiese aanbod is oor vyf fakulteite verdeel, elk met twee of drie departemente. Die aanbod het mettertyd van voorgraadse grade na honneurs- en meestersprogramme uitgebrei.
| Fakulteit | Gestig | Dekaan | Departemente |
|---|---|---|---|
| Ekonomiese en Bestuurswetenskappe | 2012 | dr. Rachel Maritz | Bestuurswetenskappe; Finansiële Bestuur en Ekonomie; Rekeningkundige Wetenskappe |
| Geesteswetenskappe | 2019 | prof. Danie du Plessis | Sosiale Wetenskappe; Tale en Kultuurwetenskappe |
| Natuurwetenskappe | 2019 | dr. Jaco du Toit (waarnemend) | Rekenaarwetenskappe; Wiskundige Wetenskappe |
| Opvoedkunde | 2019 | prof. Johnnie Hay | Opvoedkundestudies; Professionele Studies |
| Regsgeleerdheid | 2022 | prof. Hermie Coetzee | Privaat- en Handelsreg; Publiek- en Prosesreg |
Verskeie dekaanskappe het in 2025 en 2026 verwissel. Emeritusprofessor Danie du Plessis, 'n kommunikasiewetenskaplike, het in Junie 2025 dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe geword, en prof. Johnnie Hay het in dieselfde maand dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde geword. Dr. Piet Pretorius is in Januarie 2025 as waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aangestel, en dr. Jaco du Toit het hom met ingang van Julie 2026 in dié pos opgevolg.
Programme
Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is Akademia se oudste en grootste fakulteit en bied BCom-grade, hoërsertifikate, nagraadse diplomas en gevorderde diplomas aan. 'n Honneursgraad in ondernemingsbestuur is in 2023 bygevoeg. Die BCom (Rekeningkunde), wat deur die ACCA geakkrediteer is, het sy eerste studente in 2025 ingeneem, en die BCom (Ekonomie) word van 2027 af aangebied. 'n Meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA), 'n BComHons (Finansiële Rekeningkunde), 'n BCom (Forensiese Rekeningkunde) en 'n nagraadse diploma in hibriede projekbestuur is in ontwikkeling.
Die Fakulteit Geesteswetenskappe bied BA-, BSocSci- en BAHons-grade aan. Sy eerste program, die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), het in 2022 sy eerste graduandi afgelewer. Die BA (Kommunikasie en Joernalistiek) word sedert 2021 aangebied, die BA (Taalstudies) en die BAHons (Media en Kommunikasie) sedert 2025, en die BA (Algemeen) sedert 2026 op die voltydse kampusmodel. Die BAHons (Filosofie), wat in Oktober 2025 bekendgestel is, word op die nauurse afstandsmodel aangebied. 'n MA in kommunikasie of media en 'n BA (Visuele Kunste) is in ontwikkeling.
Die Fakulteit Natuurwetenskappe se eerste program, die BSc (Wiskundige Wetenskappe), het in 2021 studente begin inneem, en die BSc (Rekenaarwetenskappe) word sedert 2023 op die Pretoria-kampusse aangebied. Beplande uitbreidings sluit 'n BScHons (Rekenaarwetenskappe), 'n BSc (Biologiese Wetenskappe), 'n BSc (Landbouwetenskappe), 'n BAgric (Landbou) en hoërsertifikate in diere- en gewasproduksie in.
Die Fakulteit Opvoedkunde bied professionele onderwysprogramme aan wat met voltooiing registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders moontlik maak. Die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir die senior fase en vir verdere onderwys en opleiding word sedert 2021 op die nauurse afstandsmodel aangebied, en die BEd (Grondslagfase-onderwys) en BEd (Intermediêre Fase-onderwys) sedert 2022 voltyds in Pretoria. Dié twee BEd-programme het in Mei 2026 hul eerste alumni gelewer. Die Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur, die fakulteit se eerste nagraadse program, is in 2025 ingestel, en die BEdHons (Kurrikulumstudies) en die Gevorderde Diploma in Skoolleierskap en -bestuur word van 2027 af aangebied. 'n PhD in opvoedkunde, verskeie MEd-programme en verdere nagraadse diplomas is in ontwikkeling.
Die Fakulteit Regsgeleerdheid, wat in 2022 amptelik bekendgestel is, stel hom ten doel om Afrikaans as regswetenskapstaal te bewaar en uit te bou. Naas die gevestigde BCom (Ekonomie en Regte) word die LLB-graad sedert 2020 op die nauurse afstandsmodel en sedert 2023 ook voltyds aangebied. Die LLM deur navorsing, Akademia se eerste meestersprogram, en die Hoër Sertifikaat in Arbeidsreg is albei in 2025 ingestel. Rico Hammann is in Januarie 2025 die eerste LLB-afgestudeerde van Akademia wat as praktiserende prokureur tot die prokureursorde toegelaat is. 'n BCom (Regte) en LLM-programme in geneeskundige en finansiële reg is in ontwikkeling.
Beplande fakulteite
Akademia werk aan die akkreditasie van 'n BNur (Verpleegkunde) en ontwikkel programme in optiese reseptering en optometrie met die oog op 'n Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Vir 'n Fakulteit Ingenieurswese word drie programme, naamlik BIng (Elektries en Elektronies), BIng (Rekenaar en Elektronies) en BIng (Bedryfsingenieurswese), aan die Ingenieursraad van Suid-Afrika vir goedkeuring voorgelê voordat dit vir akkreditasie by die Raad op Hoëronderwys ingedien word. 'n Vierjarige Baccalaureus in Godgeleerdheid (BDiv) en 'n driejarige Baccalaureus in Teologie (BTh) is ook in ontwikkeling.
Studiesentrums
Akademia se studiesentrums verskil effens van die tradisionele universiteitskampus deurdat dit hoofsaaklik van tegnologie en afstandleer gebruik maak. Studente het by hierdie studiesentrums toegang tot gratis internet om van die aanlyn geriewe soos "Die Spens" (Akademia se aanlyn stelsel) gebruik te maak. Verder kan die studente ook by hierdie sentrums konferensies en klasse digitaal bywoon. Die lesings word uit een sentrale punt met 'n videokonferensiestelsel na die studiesentrums uitgesaai, en studente kan tydens 'n lesing vrae stel wat ook die studente in die ander sentrums hoor.
Die eerste ses studiesentrums is in 2012 geopen: in Boksburg, Centurion, Die Moot, Roodepoort, Stellenbosch en Vanderbijlpark. Akademia het sedertdien 'n landswye netwerk van studiesentrums opgebou, waaronder sentrums in George, die Paarl en Somerset-Wes in die Wes-Kaap, en het in 2018 ook sy eerste studiesentrum buite Suid-Afrika, in die Namibiese hoofstad Windhoek, geopen.
- Studiesentrums volgens plek
| Naam | Stad | Provinsie | Besonderhede |
|---|---|---|---|
| Bellville | Kaapstad | Wes-Kaap | |
| Bloemfontein | Bloemfontein | Vrystaat | |
| Centurion | Centurion | Gauteng | Die oorspronklike studiesentrum asook die hoofkantoor van Akademia |
| George | George | Wes-Kaap | |
| Krugersdorp | Krugersdorp | Gauteng | |
| Paarl | Paarl | Wes-Kaap | |
| Pretoria-Lynnwood | Pretoria | Gauteng | |
| Pretoria-Die Moot | Pretoria | Gauteng | |
| Somersetwes | Kaapstad | Wes-Kaap | |
| Vanderbijlpark | Vanderbijlpark | Gauteng |
Kampusse
Akademia beskik oor 'n kampus en administratiewe hoofkantoor in Centurion en 'n kampus in die Paarl, en bou 'n groot residensiële kampus in die ooste van Pretoria.
Centurion-kampus
Akademia se eerste kampus, op die hoek van Von Willichlaan en Suidstraat in Centurion, is in 2016 geopen. Weens die groei in studentegetalle is die lesinglokale in 2019 na 'n hoërskool in Gerhardstraat verskuif, en is daar beplan dat studente van 2021 af die nuwe kampus van Solidariteit se opleidingskool Sol-Tech tydelik sou gebruik. Akademia het op 15 Maart 2021 'n tussentydse kampus in Centurion in gebruik geneem waar voltydse studente klasse bywoon. Die Centurion-kampus beskik oor 'n kafeteria, kliëntedienssentrum, biblioteek en behuising vir voltydse studente. Studente gebruik ook die Gerhardstraat-kampus en, sedert Februarie 2024, die Leriba-kampus in Centurion. Die instelling bedryf ook 'n koffiewinkel, Sowel As, op die Gerhardstraat-kampus.
Pretoria-Oos-kampus
Akademia besit 'n gebied van ongeveer 220 hektaar in die ooste van Pretoria, aan Boschkopweg sowat 8 km van Solomon Mahlangu-rylaan, waar 'n nuwe residensiële kampus gebou word. Akademia en die eiendomsbeleggingsmaatskappy Kanton, wat opgerig is om eiendom vir Afrikaanse instellings te ontwikkel en te bestuur, het die ontwikkeling op 1 Augustus 2024 as deel van die Toekomsbouer-veldtog aangekondig, en dit is die ontwikkelaar se omvangrykste projek tot op hede. Akademia het die terrein in Mei 2024 vir R50 miljoen gekoop, nadat 'n geskikte ligging van 2017 af gesoek is, Kanton die koopooreenkoms vir die grond in Augustus 2019 onderteken het, 'n omgewingsimpakstudie afgehandel is en ontwikkelingsregte tussen 2021 en 2024 bekom is. Van 2028 af sal Akademia die voltooide kampus as Kanton se langtermynhuurder gebruik. Dit sal Akademia se kapasiteit met 5 000 studente vergroot, met koshuisgeriewe vir tot 1 500 studente, en sal uiteindelik tot 6 500 voltydse en deeltydse studente kan ondersteun. Meer as R3 miljard moet vir die kampus ingesamel word, waarvan R1,8 miljard vir die eerste fase alleen benodig word.
Akademia en Kanton het op 28 November 2025 'n sooispitseremonie op die Mooiplaats-terrein gehou om die aanvang van die eerste boufase in te lei, en die bouwerk het in Januarie 2026 begin. Lede van die publiek kon dié dag aan 'n simboliese klipstapel bou wat later die voetstuk van 'n Toekomsbouer-gedenkbeeld op die kampus sal vorm. Die hoofboukontrakteur is JC van der Linde and Venter Projects, wat ook die Sol-Tech-kampus in Centurion vir Kanton gebou het. Kanton het dié kampus gedurende die Covid-19-pandemie gebou, waarna studente dit in 2021 betrek het, en het in 2024 'n koshuis met 400 beddens daar bygevoeg. Marthinus Visser het die bouwerk as voor skedule en onder begroting beskryf. Ongeveer 600 bouers en kontrakteurs het teen Oktober 2026 daagliks op die terrein aangemeld, 'n getal wat na verwagting tot omtrent 1 000 op die hoogtepunt van die bouwerk sal styg. Verskeie geboue was byna voltooi, met die binnemure, loodgieterswerk en elektriese installasies klaar of goed gevorder, en die mans- en dameskoshuise, die studentesentrum, die biblioteek, die kafeteria, die personeelkantore, die administrasiegebou en die lesinglokale was die verste gevorderd. Die kampus kry ook sy eie rioolsuiweringsaanleg, met 'n dam wat die gesuiwerde water sal opgaar om hoofsaaklik vir besproeiing gebruik te word. Dit word na verwagting in die derde kwartaal van 2027 aan Akademia oorhandig, met volle okkupasietoestemming teen die einde van daardie jaar, sodat dit betyds vir die eerstejaarstudente van 2028 gereed sal wees.
Die eerste fase omvat lesinglokale, laboratoriums, toegewyde navorsingsruimtes en personeelruimtes, 'n studentesentrum van 2 500 m² as die kampus se sosiale spilpunt, vier koshuise met 750 beddens, 'n amfiteater met plek vir 1 500 mense waarvan 'n koepel van glas en staal deel uitmaak, 'n kapelplein omring deur waterkanale en tuine, en 'n toegangspunt, Die Poort, wat uit agt boë van 18 m elk bestaan. Die bouwerk behels die verskuiwing van meer as 220 000 m³ grond, die aanlê van meer as 23 km ondergrondse pype en 40 km optiese vesel, 'n waterbergingsvermoë van 19,3 miljoen liter, ongeveer 7,1 miljoen bakstene en sowat 30 000 m² teerpaaie. Daarmee word 85% van die kampus se uiteindelike akademiese kern ontwikkel, en Akademia wil 3 500 kampusgebaseerde studente in 2028 daar verwelkom. Die kampus word in fases ontwikkel soos Akademia groei, sodat die instelling sy geriewe en koshuisverblyf mettertyd kan uitbrei. Die voltooide kampus moet ook kantoorblokke, 'n ouditorium, restaurante, koffiewinkels, personeelverblyf, agt koshuise, wêreldklas sportfasiliteite en 'n landboufakulteit met 'n proefplaas insluit.
Die koepel van glas en staal in die middel van die kampus, wat 20 m hoog en 32 m in deursnee is, vorm deel van die amfiteater. Die middelste spits sal 25 m haal, en die koepel se glasdak van 850 m² bevat 20 ton glas. Omdat die struktuur 280 ton beton moet dra, het die struktuuringenieurs 'n naspannings- en kabelstelsel in die ontwerp opgeneem, en die oorspanning oor die voorkant van die koepel, wat die verhoog van die amfiteater vorm, is 23 m. Die koepel se betonringbalk van 33 m in deursnee is op 9 Oktober 2026 gegiet, waarna die beton blootgelê en die spankabels gespan is.
Gesprekke oor die soort universiteit wat Akademia wil wees en die ervaring wat dit sy studente wil bied, het die ontwerp gevorm. Anders as by die meeste kampusse kry geen fakulteit sy eie gebou nie; studente van al die fakulteite woon klasse in al die geboue by, sodat daar deurgaans wisselwerking tussen studente en dosente op die kampus sal wees. Die kafeteria en 'n amfiteater kom in die middel van die kampus te staan, wat dié wisselwerking verder moet aanmoedig.
Wes-Kaapse kampus
Akademia het in April 2024 aangekondig dat hy sy voltydse kampusmodel na die Wes-Kaap sou uitbrei, en in Junie daardie jaar dat die kampus na alle waarskynlikheid in die Paarl-omgewing sou wees, met prof. Gawie du Toit as hoof. Volgens Akademia het die Wes-Kaapse gemeenskap, waarin 'n groot konsentrasie moedertaalsprekers van Afrikaans voorkom, die instelling self genader om die kampus te vestig. Marthinus Visser het die openingsjaar in Februarie 2025 as 2026 aangekondig. Nadat die Raad op Hoëronderwys se Hoëronderwysgehaltekomitee die fasiliteit in Julie 2025 voorwaardelik goedgekeur het, is die kampus op 15 Oktober 2025 in Bredastraat 1 in Esterville aan die media, die gemeenskap en voornemende studente bekendgestel. Die kampus het lesinglokale en saamwerkruimtes, 'n volledig toegeruste biblioteek, 'n koffiewinkel en 'n winkel, en het met 52 voltydse personeellede begin, 'n getal wat teen 2028 tot bykans 88 moet groei. Dit het in 2026 sy deure met 173 studente geopen en beoog om in 2027 ongeveer 400 eerstejaarstudente te verwelkom. Die eerste akademiese opening het in Februarie 2026 in die historiese Toringkerk plaasgevind.
Akademia het op 28 Mei 2026 aangekondig dat hy die Vêrgesig-terrein in die Boschenmeer-omgewing in die Paarl bekom het vir 'n volwaardige kampus wat uiteindelik sowat 3 000 studente sal huisves, met Kanton weer as ontwikkelingsvennoot. Die aankoop is volgens die instelling deur bydraes uit die Wes-Kaapse gemeenskap moontlik gemaak. Die stuk grond van 105 hektaar lê naby die voet van die Wemmershoekberge, en Marthinus Visser beskou die topografie as uitstekend geskik vir 'n geïntegreerde kampusontwikkeling: 'n waterweg wat in die Bergrivier invloei, sal die terrein se toekomstige waterbehoeftes bykomend ondersteun, en op helder dae strek die uitsig tot by Tafelberg en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Kanton was in Mei 2026 nog met die voorgeskrewe stadsbeplanningsprosesse besig om ontwikkelingsregte vir die terrein te bekom. Akademia het teen Oktober 2026 nog geen openingsdatum aangekondig nie; die tydlyn hang van die instelling se verdere vestiging in die Paarl af, en Kanton se aandag lê by die Pretoria-Oos-kampus.
Studentelewe
Akademia se studente word Fonties genoem, 'n naam wat uit die leuse Ad futurum per fontes ("na die toekoms deur die bronne") kom; fontes beteken vrylik vertaal ook "fonteine", en die ideaal is dat Fonties soos goeie fonteine tot diens van hul gemeenskap sal wees. Die studenteraad verteenwoordig die studente en bestuur die studentelewe saam met die bestuurder van Studentesake, met portefeuljes wat onder meer die koshuisraad, sport, kuns en kultuur, verenigings, gemeenskap en die nauurse studente dek. Die Paarl-kampus het in Augustus 2026 sy eie eerste studenteraad ingehuldig.
Akademia het in 2024 sy eerste sportfees, die Fontie-spele, in Centurion aangebied, waar spanne van agt ander onafhanklike hoëronderwysinstellings in onder meer 10'e-rugby, netbal en 5-persoonhokkie meegeding het. Fonties kan aan rugby, hokkie, netbal, krieket, tennis, skaak en padel deelneem. Die kultuurkalender sluit 'n eerstejaarskonsert, die Akademia-koor, sêr-kompetisies, debat, die talentkompetisie Fontasties en Artium, die jaarlikse kuns- en kultuurskouspel, in.
Die eerste twee koshuise, Huis Strelitzia vir dames en Huis Hennops vir mans, is in 2022 geopen, en Huis Dahlia en Huis Magalies, met plek vir onderskeidelik 88 dames- en 56 manstudente, het op 27 Januarie 2024 bygekom. Die daghuise Huis Daglelie en Huis Karoo het later in 2024 hul handelsmerke bekendgestel. Die Paarl-kampus se vier koshuise, naamlik Huis Suikerbos en Huis Waterlelie vir dames en Huis Seder en Huis Bergsig vir mans, is in Maart 2026 benoem. Studente wat nauurs oor afstand studeer, neem by hul naaste studiesentrum en aanlyn aan studenteleweaktiwiteite deel.
Deur die Spore-projek reik studente na kwesbare gemeenskappe uit, en die instelling se Loopbaankantoor bied loopbaanskoue en werkswinkels oor voorbereiding vir die werkplek aan. Die eerste Solidariteit Praestantia-toekennings aan toppresterende Fonties is in Mei 2026 by die jaarlikse prestigefunksie oorhandig.
Befondsing
Akademia ontvang geen staatsbefondsing nie en is daarom grootliks op studiegeld en op skenkings uit die Solidariteit Beweging aangewese. Die beweging het in 2015 sowat 330 000 lede gehad, van wie elkeen R15 per maand van sy ledegeld aan Akademia afgestaan het.
Die Solidariteit Boufonds, wat in 2014 gestig is, samel geld in om geboue vir Akademia en Sol-Tech te koop of op te rig. Met dié fonds is die Centurion-kampus in 2015 aangekoop, sodat Akademia van 2016 af ook studierigtings kon aanbied wat nie deur afstandsonderrig moontlik is nie, soos verpleegkunde.
Die kampusontwikkeling in Pretoria word deur Kanton se eie belegging en finansiering gedra, met bydraes uit die Afrikaanse gemeenskap deur die Toekomsbouer-veldtog, wat Akademia en Kanton in Augustus 2024 bekendgestel het. Kanton het die aanvanklike grootmaatgrondwerke uit eie middele aangepak terwyl kapitaal vir die groter ontwikkeling ingesamel is. Akademia het in September 2024 akademiese merietebeurse vir matrikulante ingestel en in Oktober 2025 'n Landbouskenkingsfonds bekendgestel.
Internasionale bande
Vanaf 2021 kan Afrikaanssprekendes in die buiteland ook aan Akademia studeer. Die nauurse afstandsmodel het in daardie jaar 'n bykomende e-leeropsie gekry wat studente enige plek ter wêreld kan gebruik.
Die Fakulteit Natuurwetenskappe het 'n vyfjarige samewerkingsooreenkoms met die Hongaarse Universiteit van Landbou- en Lewenswetenskappe (MATE) gesluit wat op navorsing, onderrig en fakulteitsontwikkeling in die landbou- en lewenswetenskappe gerig is. 'n Afvaardiging van Akademia het in November 2023 aan 'n internasionale samewerkingsweek van die Artevelde Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe in Gent, België, deelgeneem. Akademia het in Augustus 2024 'n afvaardiging van Hillsdale Kollege in Michigan ontvang en in September 2025 self 'n besoek aan dié kollege gebring. Die Poolse letterkundige Jerzy Koch het in 2024 as gas van die instelling se Taalsentrum met studente gesels.
Akademia et al.
Akademia et al. is 'n kortkursusplatform wat Akademia op 18 Oktober 2022 onder sy eie vaandel bekendgestel het. Dit bied praktykgerigte kortkursusse met 'n akademiese onderbou aan individue en ondernemings, wat deur akademici en ander kundiges uit die instelling se eie geledere en uit die gemeenskap aangebied word. Die kursusse lei tot sertifikate en staan los van die kwalifikasies wat die Raad op Hoëronderwys geakkrediteer het; hulle verleen nie krediete of toelating tot Akademia se grade nie. Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, was by die bekendstelling die platform se bestuurder.
Die naam dui op die band met die moederinstelling, terwyl die Latynse afkorting et al. (et alia, et aliae, et alii) tradisioneel "nog dinge" of "nog mense" beteken en hier op "nog kursusse" en "nog vennote" sinspeel.
Kritiek
In 2014 het Blade Nzimande, minister van hoëronderwys, gedreig om Akademia se registrasie in te trek en die instelling sodoende te sluit, omdat dit eentalig Afrikaans is en hy dit as "rassisties" beskou het. Volgens hom sluit 'n eentalige Afrikaanse universiteit ander taalgemeenskappe uit en pas dit nie in 'n land met elf amptelike tale nie. Dieselfde argument het by al die histories Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika tot verengelsing gelei.
Die minister het baie kritiek ontvang, aangesien hy geen beswaar teen die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse universiteite het wat eentalig Engels is nie. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taalraad en die FW de Klerk-stigting het daarop gewys dat Afrikaans die grootste veelrassige taal in Suid-Afrika is, met sowat 50% bruin, 40% wit en 10% swart sprekers, en dat die Grondwet enkelmediuminstellings in enige van die landstale toelaat. Die stigting het Nzimande se uitlatings na die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe verwys.
Die skrywer Naomi Meyer het studie by Akademia met "laertrek" en om "my klein taal in 'n klein groepie mense te gaan praat en iewers op 'n soort Patmos-eiland te gaan sit" vergelyk en voer aan dat sy eerder haar kinders in skole en universiteite sal plaas wat hulle "toerus om te sukkel met die kompleksiteite van 'n multikulturele omgewing en ook die interessantheid en omvang van ander mense in hierdie land se menswees [...] leer verstaan".
Volgens Jonathan Jansen hou Akademia 'n "gevaar" vir demokrasie in en isoleer dit sy studente.
Naledi Pandor het na Akademia as 'n "gevaar" verwys en gesê swart mense moet hulle daarteen uitspreek. Sy het bygevoeg: "Diegene wat aan bewind was, gee nie maklik beheer prys nie. Hulle soek dus na ander maniere." Sy voer verder aan dat "hulle weier om die kapitaal te belê wat hulle besit en op onregmatige wyse deur kolonialisme en imperiale oorheersing verkry het."
Volgens Piet Croucamp is Akademia "voorskriftelik" oor "kulturele en religieuse voorkeure" en bied dit "min ruimte vir kritiese denke". Hy voer aan dat dit "byna 'n uitgemaakte saak" is dat afgestudeerde "kinders" sal sukkel om aan te pas wanneer hulle "tussen 63 miljoen Suid-Afrikaners 'n lewensruimte moet vind". Croucamp meen Akademia is nie slegs 'n universiteit nie, maar ook 'n politieke projek, en dat Solidariteit "Afrikaanse onderwys misbruik om hul kinders en studente in hul eie politieke vrese gevange te hou". Hy voer verder aan dat Akademia "bevry moet word van die politieke bagasie waarmee dit nog altyd belas is" en dat hy vir "duisende bruin Afrikaanssprekende kinders" plek sou maak by Akademia en Sol-Tech.
