factograf
AF

Form van motivering

Selfbevordering

Selfbevordering

Selfbevordering (Self-enhancement) is 'n tipe motivering wat plaasvind om mense beter oor hulleself te laat voel en hulle gevoel van eiewaarde te handhaaf. Hierdie motief kom veral op die voorgrond wanneer persone bedreig voel, mislukking ervaar of wanneer hulle selfbeeld geknou word. Selfbevordering behels dat daar voorkeur aan positiewe bo negatiewe selfbeskouings gegee word.

Daar is 'n verskeidenheid strategieë wat mense kan gebruik om hulle gevoel van eiewaarde te verhoog. Hulle kan byvoorbeeld hulle gebrekkige vaardighede onderspeel of ander kritiseer ten einde beter te lyk. Alhoewel selfbevordering by mense met 'n lae sowel as 'n hoë selfbeeld gesien kan word, is die twee groepe geneig om verskillende strategieë te gebruik. Mense wat reeds 'n hoë selfbeeld het, verbeter hul selfkonsep direk, deur nuwe inligting op 'n bevooroordeelde manier te verwerk. Mense met 'n lae selfbeeld gebruik meer indirekte strategieë; hulle vermy byvoorbeeld situasies waarin hulle negatiewe eienskappe raakgesien sal word.

Dimensies

Die omvang en aard van selfbevordering wissel oor 'n aantal dimensies.

Selfversterking vs. selfbeskerming

Selfbevordering geskied deur óf selfversterking óf selfbeskerming; deur óf die positiwiteit van 'n persoon se selfkonsep te versterk óf die negatiwiteit van 'n persoon se selfkonsep te verminder. Selfbeskerming is oënskynlik die sterker motief aangesien dit van groter belang is om negatiwiteit te vermy as om positiwiteit aan te moedig. Maar, soos met alle motiverings, is daar verskille tussen individue. Dit blyk byvoorbeeld dat mense met 'n hoër selfbeeld voorkeur aan selfversterking gee terwyl mense met 'n laer selfbeeld geneig is om die self te beskerm.

Openbaar vs. privaat

Selfbevordering kan privaat of in die openbaar geskied. Openbare selfbevordering is 'n ooglopende positiewe voorstelling van die self, terwyl private selfbevordering slegs deur die individu opgemerk word. Die teenwoordigheid van ander mense, d.w.s. in openbare selfbevordering kan selfverhoging óf laat toeneem óf inhibeer.

Sentraal vs. periferaal

Potensiële areas van selfbevordering wissel na gelang van hulle belangrikheid vir 'n persoon. Selfbevordering geskied gewoonlik op 'n sentrale terreine in 'n individu se lewe, en in 'n mindere mate op die meer periferale, minder belangrike terreine.

Eerlik vs. takties

Selfbevordering kan óf eerlik óf takties wees. Eerlike selfbevordering is op onmiddellike bevrediging gerig terwyl taktiese selfbevrediging op die potensieel groter voordele van uitgestelde bevrediging gerig is.

Taktiese selfbevordering word dikwels bo eerlike selfbevordering verkies aangesien openlike selfbevordering sosiaal onaangenaam vir ander mense is. Narcisme is 'n voorbeeld van uiterste eerlike selfbevordering.

Tipes

Selfbevordering vind nie bloot toevallig plaas nie. Die voorkoms daarvan is dikwels hoogs sistematies en kan op 'n verskeidenheid maniere plaasvind. Interessant genoeg is ons gewoonlik onbewus daarvan dat ons selfbevorderend optree. Bewustheid van selfbevorderende prosesse sal die fasade beklemtoon wat ons probeer skep, en verklap dat ons waargenome self in werklikheid 'n verbeterde weergawe van ons werklike self is.

Selfsugtige toeskrywingsvooroordeel

Mense is geneig om selfsugtige toeskrywingsvooroordele te hê, menende dat positiewe uitkomste aan 'n persoon se interne gesteldheid toegeskryf word, maar negatiewe uitkomste aan faktore buite 'n persoon se beheer, bv. ander persone, toeval, omstandighede, toegeskryf word. In kort, mense verwag erkenning vir hulle suksesse, maar hulle ontken verantwoordelikheid vir hulle mislukkings. Die selfsugtige toeskrywingsvooroordeel is baie sterk, en kan in die openbaar sowel as privaat raakgesien word, selfs al word daar 'n premie op eerlikheid gestel. Die selfsugtige toekenningsvooroordeel manifesteer veral wanneer persone die oorsprong van gebeure beskryf waarin hulle 'n persoonlike aandeel of belang het.

Selektiwiteit

Selektiewe geheue

Mense sal soms eerder hulle sterk punte as hulle swakhede onthou. Die patroon van selektiewe vergeet is al as "mnemic neglect" beskryf. Hierdie "verwaarlosing" weerspieël vooroordele in die verwerking van inligting tydens kodering, herwinning of 'n persoon se onthouvermoë.

  • Vooroordele tydens kodering geskied via selektiewe aandag en selektiewe openbaarmaking.
  • Vooroordele tydens 'n persoon se herwinning en onthouvermoë geskied via 'n selektiewe herinneringsvermoë.

Selektiewe aanvaarding en verwerping

Selektiewe aanvaarding behels dat vleiende of egoversterkende inligting aanvaar word sonder dat die geldigheid daarvan betwyfel word. Selektiewe verwerping behels dat 'n persoon na geloofwaardige teorieë soek in 'n poging om kritiek te weerlê. Die volgende is 'n goeie voorbeeld van selektiewe aanvaarding en verwerping: Selektiewe aanvaarding geskied wanneer die geldigheid van 'n eksamen waarin 'n persoon goed gevaar het, sonder meer aanvaar word, terwyl selektiewe verwerping beteken dat daar na redes gesoek word om 'n eksamen waarin 'n persoon swak gevaar het, as ongeldig te verwerp.

In ooreenstemming met selektiewe aanvaarding en verwerping, openbaar mense 'n meer kritiese houding teenoor die blaam wat hulle vir iets ontvang, en is hulle meer toegeeflik wanneer hulle lof ontvang.

Strategieë

Strategiese sosiale vergelykings

Die sosiale aard van die wêreld waarin ons leef, beteken dat selfevaluasie nie in 'n vakuum kan plaasvind nie – dit is onvermydelik dat daar vergelyking met ander sosiale partye sal plaasvind. Baie sosiale vergelykings vind as gevolg van omstandighede outomaties plaas, bv. binne 'n eksamenopset.

Opwaartse sosiale vergelykings

'n Opwaartse sosiale vergelyking behels dat 'n persoon hom met 'n individu vergelyk wat oë sy meerdere is. Opwaartse sosiale vergelyking met 'n individu wat skynbaar oor dieselfde eienskappe as die self beskik, lei soms tot selfbevordering deurdat die self en die ander persoon se eienskappe geassimileer word. Dit gebeur egter slegs wanneer:

  • die gaping tussen die self en die teikenpersoon nie te groot is nie;
  • die vaardigheid of sukses wat ter sprake is, haalbaar is;
  • die teikenpersoon as 'n mededinger beskou word.

Wanneer 'n sosiale vergelyking nie tot assimilasie lei nie, kan kontrastering plaasvind. Dit kan dan tot opwaartse sosiale vergelyking lei waar die klem op inspirasie val.

Afwaartse sosiale vergelykings

Afwaartse sosiale vergelykings behels vergelyking met 'n individu wat oënskynlik ondergeskik aan of minder bekwaam as die self is. Afwaartse sosiale vergelykings dien as 'n vorm van egoverdediging waar die ego op grond van die gevoel van meerderwaardigheid opgeblaas word.

Laterale sosiale vergelykings

Laterale sosiale vergelykings, vergelykings met diegene wat oënskynlik gelyk aan die self is, kan ook selfbevorderend wees. Vergelykings met lede van 'n persoon se in-groep kan tot beskerming teen 'n lae selfbeeld bydra, veral wanneer die in-groep benadeel is.

Selfevaluering-instandhoudingsteorie

Selfbevordering groei en taan as 'n funksie van 'n persoon se bekwaamheidsvlak binne die konteks van interpersoonlike verhoudings. Dit beïnvloed interpersoonlike gesindhede en gedrag. Daar is drie faktore wat mense se selfevaluerings beïnvloed:

  • In naby verhoudings: Vergelykings van 'n persoon se prestasie met dié van ander is 'n groter waarskynlikheid, en wanneer dit plaasvind, dra dit meer gewig.
  • Persoonlike relevansie van 'n spesifieke vermoë: wanneer die domein nie relevant tot die self is nie, sal besinning plaasvind en wanneer die domein relevant is, sal vergelyking plaasvind.
  • Prestasievlak in daardie bekwaamheidsdomein.

Strategiese vertolking

Die konsepte wat mense gebruik om hulleself en hulle sosiale wêreld te verstaan, is relatief vaag. Wanneer sosiale vergelykings getref word, kan mense hulle vertolking van daardie konsepte maklik en subtiel aanpas ten einde die self te versterk. Strategiese vertolkings kom veral voor nadat negatiewe terugvoer ontvang is. Enkele voorbeelde van strategiese vertolkings is:

  • Mense se interpretasie van dit wat hulle as 'n deug of talent beskou, is bevooroordeeld ten gunste van die eienskappe waaroor hulle beskik.
  • Mense beskou persoonlikheidsterugvoer en wetenskaplike navorsing as minder geloofwaardig indien daar geïmpliseer word dat hulle vatbaar vir siekte is.
  • Lui mense beskou die res van die wêreld as redelik fiks en gesond terwyl persone wat gereeld oefen, hulle atletiese vermoëns as 'n afsonderlike, unieke eienskap beskou.
  • Mense tob langer wanneer hulle swak toetsuitslae ontvang, is meer geneig om dit te laat hersien en is aansienlik meer skepties daaroor. Mense reageer nie dieselfde op toetsuitslae wat deur ander ontvang word nie.
  • Strategiese vertolkings kan ook meer subtiel wees. Mense vertolk nie net hulle eie eienskappe op 'n selfbevorderende manier nie, maar ook dié van ander sodat hulle vergelykenderwys beter kan vertoon.

Selfbelemmerende gedrag

Selfbelemmerende gedrag behels dat 'n persoon struikelblokke op sy eie pad stel ten einde die evaluerende implikasies wat taakverrigting meebring, te verminder. Selfbevordering kan hier op twee maniere plaasvind:

  • In die geval van mislukking kan selfbelemmering die selfbeeld beskerm deurdat die mislukking aan die struikelblokke toegeskryf word – vermindering.
  • In die geval van sukses kan selfbelemmering die selfbeeld bevorder deurdat die sukses ondanks die struikelblokke aan die self toegeskryf word – vermeerdering.

Ongeag die oorsake van selfbelemmering bly die selfverydelende eindresultaat dieselfde – die integriteit en kwaliteit van 'n taakuitkoms of evaluering word in gedrang gebring ten einde 'n aangenamer uitkoms te verkry. Selfbelemmerende gedrag is 'n goeie demonstrasie van 'n aktiewe selfmisleiding.

Beperkings

Geloofwaardigheid

Selfbevordering floreer op die afwesigheid of dubbelsinnigheid van bewyse. Waar kriteria streng gedefinieer is, neem selfbevordering gewoonlik af. Die effek verminder gewoonlik wanneer duidelikheid en definisie van die gedefinieerde kenmerk toeneem. Hoe makliker 'n gedrag of kenmerk geverifieer kan word, hoe moeiliker sal dit wees om daardie kenmerk aan selfbevordering te onderwerp. Die geloofwaardigheid van 'n eienskap wat gemeet kan word, beperk die mate waarin die selfbevordering van daardie eienskap voorkom.

Luim

Positiewe sowel as negatiewe gemoedstemmings kan die teenwoordigheid van die selfbevorderende motief beperk. Die uitwerking van luim op selfbevordering kan soos volg verduidelik word: 'n Negatiewe luim maak dit moeiliker maak om selfbevorderende taktieke in te span terwyl 'n positiewe luim die gebruik van hierdie taktieke in die eerste plek onnodig maak.

Sosiale konteks en verhoudings

Die teenwoordigheid van die selfbevorderingsmotief is van baie sosiale situasies afhanklik, sowel as die interpersoonlike verhoudings binne daardie situasies. Baie verskillende vergestaltings van selfbevordering kan plaasvind afhangende van hierdie sosiale kontekste:

  • Die selfbevorderingsmotief is swakker tydens interaksies met geliefdes en mense na aan die self.
  • Terwyl mense geneig is om 'n verbeterde beeld van hulleself voor vreemdelinge voor te hou, verdwyn hierdie neiging in die teenwoordigheid van vriende.
  • Persone na aan die self word oor die algemeen hoë geëvalueer as persone wat verder van die self af is.

Kultuur

Sielkundige funksionering word deur kulturele invloede getemper. Daar is baie bewyse ter ondersteuning van 'n kultuurspesifieke beskouing van selfbevordering.

Selfbevordering blyk 'n verskynsel te wees wat hoofsaaklik tot Westerse kulture beperk is waar sosiale bande losser as in die Ooste is.

Tog is daar tekens dat selfbevordering ook by meer interafhanklike kulture voorkom. Chinese skoolkinders beskou hulleself bogemiddeld bekwaam, en Taiwannese werknemers beoordeel hulleself gunstiger as wat hulle werkgewers doen.

Ander faktore

  • Kognitiewe lading: Waar persone hulle in situasies met 'n groot kognitiewe lading bevind, is daar 'n groter geneigdheid om selfbevorderend op te tree, amper asof instinktief. Hulle stem maklik in dat hulle oor positiewe kenmerke beskik en is minder geneig om te ontken dat hulle negatiewe eienskappe het.
  • Veranderbaarheid: Wanneer 'n sekere eienskap as onveranderbaar gesien word, is mense meer geneig om 'n ander eienskap wat hulle wel as veranderbaar beskou, te bevorder.
  • Diagnostisiteit: Waar 'n kenmerk as hoogs diagnosties beskou word, is mense minder geneig om selfbevorderend te wees, uit vrees dat hulle uitgevang sal word.

Verwysings

Aantekeninge

Bronne

  • Baumeister, Roy F. (1999), The Self in Social Psychology, Psychology Press, ISBN 978-0-86377-572-7
  • Hogg, Michael A.; Vaughan, Graham M. (2008), Social Psychology, Pearson Education, ISBN 978-0-13-206931-1
  • Kunda, Ziva (1999), Social Cognition: Making Sense of People, MIT Press, ISBN 978-0-262-61143-5, OCLC 40618974

Verdere leesstof

  • Edward Chin-Ho Chang: Self-Criticism and Self-Enhancement. American Psychological Association, 2008 ISBN 978-1-4338-0115-0
  • Hogg, Michael A.; Cooper, Joel (2003), The Sage Handbook of Social Psychology, Sage, ISBN 978-0-7619-6636-4
  • Mark R Leary & June Price Tangney: Handbook of Self and Identity. Guilford Press, 2005 ISBN 978-1-59385-237-5

Eksterne skakels

  • Sedikides vs. Geargiveer 31 Maart 2010 op Wayback Machine Heine debate Geargiveer 31 Maart 2010 op Wayback Machine (videos)
  • Constantine Sedikides' Geargiveer 3 Oktober 2006 op Wayback Machine Home Page;
  • Home Page of Steven Heine
  • University of Southampton's Centre for Research on Self and Identity Geargiveer 8 Junie 2009 op Wayback Machine Home Page
  • International Society for Self and Identity Geargiveer 6 Maart 2010 op Wayback Machine.

Read next

In 11 languages

Text from Wikipedia, CC BY-SA 4.0 · Source article