Red Bull is 'n energiedrankie wat deur die Oostenrykse maatskappy Red Bull GmbH geskep en besit word. Met 'n markaandeel van 43% is dit die gewildste energiedrankhandelsmerk sedert 2020, en die derde waardevolste koeldrankhandelsmerk, na Coca-Cola en Pepsi. Sedert sy bekendstelling in 1987 is meer as 100 miljard blikkies Red Bull wêreldwyd verkoop, insluitend meer as 12,6 miljard in 2024.
Oorsprong
Oorspronklik was dit slegs beskikbaar in 'n enkele onbeskrewe geur wat verkoop is in 'n lang, skraal silwer-en-blou blikkie, genaamd "Red Bull Energy Drink", maar die drankie het met verloop van tyd talle variante bygekry. Sy slagspreuk, "Red Bull gee jou vlerke", word beskou as een van die gewildste en onvergeetlikste advertensieslagspreuke ter wêreld. Eerder as om 'n tradisionele bemarkingsbenadering te volg, het Red Bull bewustheid gegenereer en 'n "handelsmerkmite" geskep deur sy eie ekstreme sportbyeenkomsreekse soos Red Bull Cliff Diving World Series, Red Bull Air Race, Red Bull Crashed Ice en uitstaande toertjies soos die Stratos-ruimteduikprojek te loods. Seker die wêreldbekendste borgskap is Red Bull se eienaarskap van die Red Bull Racing-span in Formule Een, met Max Verstappen wat vir vier jaar namekaar (2021 tot 2024) die wêreldbestuurderskampioen was. Benewens sportreekse sluit die bemarking daarvan verskeie sportspaneienaarskappe in; celebrity-endossemente; en musiek, deur sy Red Bull Records-etiket.
Naam van produk
Die naam Red Bull is afgelei van 'n soortgelyke drankie genaamd Krating Daeng wat in Thailand ontstaan het en deur die apteker Chaleo Yoovidhya bekendgestel is. Terwyl hy in Thailand sake gedoen het, het die Oostenrykse entrepreneur Dietrich Mateschitz 'n blikkie Krating Daeng gekoop en daarna beweer dat dit sy vlugvoosheid genees het. Mateschitz het probeer om 'n vennootskap met Yoovidhya te bewerkstellig en het 'n produk geformuleer wat by die smaak van Westerlinge sou pas, soos deur die drankie met gas te karboniseer. In 1984 het die twee entrepeneurs Red Bull GmbH in Fuschl am See, Salzburg, Oostenryk, gestig. Toe Mateschitz hul nuwe produk merk, het Mateschitz na Krating Daeng se naam verwys: in Thai beteken daeng rooi, en 'n krating (bekend in Engels en Nederlands as 'n gaur) is 'n groot spesie wildebees wat inheems aan die Indiese subkontinent is. Red Bull en Krating Daeng gebruik dieselfde rooi bul op 'n geel son-logo terwyl hulle voortgaan om hul drankies afsonderlik in die Thaise en Westerse markte te bemark.
