Beskrywing


Dit is 'n immergroen, groterige struik of kleinerige boom met 'n ronde kroon, kort stam en wollerige nuwe blare. Die boom kan 5–10 m hoog groei, maar is gewoonlik korter, ongeveer 3–4 m.
Gebruike

Die vrugte is op hulle soetste as hulle sag en geel is. Indien lukwarte in groot hoeveelhede geëet word, oefen dit 'n ligte maar merkbare kalmerende effek uit, wat tot 24 uur kan voortduur.
Geskiedenis

Die lukwart is oorspronklik 'n vrug uit die suidooste van China. Dit het na Japan versprei en het reeds sedert die vroegste tye daar natuurlik voorgekom, waar dit nou reeds vir meer as 'n duisend jaar verbou word. Dit het ook natuurlik gevestig in Indië en vele ander plekke in die wêreld. Chinese immigrante het heel waarskynlik die lukwart na Hawaii versprei.
Produksie
Japan is die grootste produsent van lukwarte (Januarie tot Junie), gevolg deur China (Maart tot Julie). Dit word ook reg rondom die Middelandse See verbou (in Siprus, Egipte, Frankryk, Israel, Italië, Albanië, Libanon, Malta, Spanje, Morokko, Algerië, Sirië en Turkye), sowel as in Armenië, Abchasië, Australië, Bermuda (konfyt word hier gemaak van lukwarte), Brasilië, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan en Portugal.
Verbouing
Dit is maklik om die lukwart te kweek en dit word ook as sierboom aangeplant. Dit was oral in Kalifornië verbou teen die 1870's. Dit floreer ook in die vogtige klimaat van suidoos-Texas, asook dwarsoor Israel. Die growwe tekstuur van die blare verskaf 'n tropiese effek aan tuine en kontrasteer goed met meeste ander plante.
Voedingswaarde
Die lukwart het 'n lae natrium-, cholesterol- en versadigde vetinhoud. Dit is ryk aan vitamien A, dieetvesel, vitamien B6, kalium en mangaan. Die goeie voedingswaarde en gesondheidsvoordele van lukwart maak dit ideaal vir verslankingsprogramme.
Eksterne skakels
- Feite oor lukwarte op die "California Rare Fruit Growers" webblad Geargiveer 24 Oktober 2012 op Wayback Machine (en)
- Lukwart inskrywinng op "Purdue University Center for New Crops & Plant Products" webblad (en)
- Feite oor lukwart-voeding (en)
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.
