Optrede
Die eerste husare was in die ooste van Europa met hul onverwagte stormlope bekend as vrybuiters, struikrowers, stropers en guerrillastryders. Later was hulle meer georganiseerd en is hulle as verkenners ingespan. Hierdie ligbewapende kavallerie met alleen maar sabels en skilde was van die 15de tot die 19de eeu nie slegs om hul vernuf met perde op die slagveld bekend nie, maar ook om hul besondere “uniforms”.
Kleredrag
Husare het as beskerming dik jasse gedra teenoor ander soldate se metaalplate. Daarom was ‘n husaar te perd aansienlik ratser as hul teenstanders. So ‘n jas bekend as ‘n dolman het valletjies op die skouers gehad en was aan die voorkant ryklik versier met galon. Dikwels het ‘n husaar ‘n tweede jas gevoer met pels gedra. Sy kop het hy bedek met ‘n sjako, ‘n hoofdeksel van beervel. Hierdie hoë militêre hoed was min of meer silindries met ‘n klep van voor en bo-op ‘n regop pluim.
Teenswoordig
In die moderne tyd word die rang van husaar nog slegs by sekere weermagte gebruik. Die hedendaagse husaar het die perd verruil vir die tenk. In Suid-Afrika leef die woord voort in die naam van ‘n bekende braairestaurant.
Etimologie
Die woord husaar kom hoogswaarskynlik van die Hongaarse woord huszár, met die betekenis van ruiter of kaper.
Bibliografie
- https://www.quora.com/What-is-the-definition-of-a-Hussar-When-did-they-become-popular-Which-countries-used-them-recently-after-their-peak-of-popularity
- https://study.com/academy/lesson/hussars-overview-history-purpose.html#:~:text=Hussars%20are%20believed%20to%20originate,light%2C%20irregular%20raiders%20or%20brigands.